Sign in to follow this  
Blesbuck

Erik se T-Hemp

Recommended Posts

Blesbuck

'n Miniverhaal gepubliseer

in Sarie van 5 Mei 1999

geskryf deur Marisa Haasbroek

"Jy kan nie 'n T-hemp aantrek na 'n gradeplegtigheid!" kla ek. Erik

hou die toga styf toe, maar ek kan mos sien daar is g'n boordjie nie.

"En op hoeveel gradeplegtighede was Ma al?" Dis 'n lae hou; hy weet

goed hoe pla my min geleerdheid my.

Die jaar toe Erik veertien geword het, het sy pa besluit hy ruil my in

vir 'n jonger model, een sonder rekmerke op haar maag. Toe ek bel om te

vra of hy na die gradeplegtigheid wil kom, sê hy net: "Ek het 'n ander

afspraak." Eintlik wou ek hom nie genooi het nie; dis nie asof hy 'n sent bygedra

het tot Erik se geleerdheid nie.

Die jaar toe Erik veertien geword het, het hy na daardie musiek begin

luister. Liedjies wat wysieloos aantjommel; al wat jy hoor, is

doef-doef-doef. Partykeer was ek spyt sy pa het nie maar die hoëtrou

ook gevat nie.

"Is jy klaar?" vra ek. "Oor 'n uur begin die storie en ons moet nog

parkeerplek soek."

"Relax, ek gaan eers gou vir my 'n paar eiers in die pan gooi."

"Nee, netnou mors jy op jou klere! Drink koffie en eet beskuit."

En in sy veertiende jaar het hy daardie vriende begin kry. Knape met

lang kuiwe wat jou nooit in die oë kyk nie en altyd swart dra. Waaroor rou

die tieners so? Oor hul eie of hul ouers se verlore lewe? Sy maats se

ouers is almal baie ryker as ek en toe hy sê hy wil ook universiteit toe, het

ek bang geraak.

Erik het vir ouditeur gestudeer. Dis een ding: hy het my kop vir

syfers geërf. Van die debiteureklerke by die werk is ek die akkuraatste.

Vir ekstra geld het ek begin om koeksisters vir die tuisnywerheid te

bak. Elke aand tot twee in die oggend. Erik het sowaar werk gekry as 'n

kelner. So tussen ons het ons elke jaar die universiteit se rekening net-net

betaal gekry.

Minder het ons nie baklei nie. Oor meisies, oor hy te min leer, oor hy

nie wil kerk toe gaan nie, oor die oorbel, oor die tatoeëermerk op sy arm

wat hy afgewas het net toe ek die stuipe wou kry . . .

Nes ons vandag baklei.

"Moenie vir Ma overdress nie. Netnou dink die mense ons is niks

gewoond nie. En moet Ma daai pienk outfit dra? Dit laat Ma se wange so

rooierig lyk."

"Ek sê nog 'n mens dra net nie 'n T-hemp onder 'n toga nie!"

"Sharrup, Ma!" Ongeërg.

Ons baklei oor wie moet bestuur. Hy wen. Ons baklei oor die roete, oor

hy op ander motors se sterte sit.

Toe ons by die groot grys gebou inloop, bekyk ek die ander studente

met hul swart togas goed. "Sien jy, al die manstudente het boordjiehemde

aan."

Ek kry maklik plek omdat ek ek-alleen is; daar is mos altyd

een-een-sitplekke oop. Iemand speel orrelmusiek soos in die kerk. Die

mense praat ook net so saggies soos in die kerk. Ek soek Erik se naam

in die program, kry hom daar tussen die Grovés. Ek soek hom tussen die

rye en rye studente; ek kry hom omdat hy van agter net soos sy pa lyk. Ek

sluk aan 'n knop in my keel.

Almal staan op toe 'n lang ry professore van agter ingestap kom. Net

twee van hulle loop tot op die verhoog. Die studente beweeg soos 'n lang ry

miertjies teen die sytrap op, verdwyn agter die gordyne en kom een-een

uitgestap soos hul name geroep word. Hulle gaan staan eers tot die

fotograaf se flits geflits het en stap dan na die man wat hul name

uitgeroep het. Elkeen kry 'n rolletjie papier. Daar is baie studente

wat B.Com.-grade kry. As die professor "cum laude" ná die naam sê, klap

die mense 'n bietjie harder.

Toe die G's begin, voel ek my maag draai. Se nou Erik val of iets?

"Erik Grové!" roep die professor.

Erik wag vir die foto se neem, stap dan verder. Toe gaan staan hy in

die middel van die verhoog en ruk sy toga oop.

Die mense trek hul asems in. Toe begin hulle hande klap en een vir een

staan hulle op. Tot die professor klap hande.

Ek bly sit. Ek byt my lip tot hy bloei, maar die trane wil nie ophou

kom nie.

Dankie, Ma! Sê die vet, swart letters op die T-hemp.

Share this post


Link to post
Share on other sites
Lorrett

Wow! Blesbuck dit het my nou 'n knop in die keel gegee. My seun het ook nounet 2 maande terug graad gekry en hy het nou wel nie tot daardie uiterste gegaan nie, maar het baie mooi woorde vir my en sy pa agterna gehad.

Share this post


Link to post
Share on other sites

Create an account or sign in to comment

You need to be a member in order to leave a comment

Create an account

Sign up for a new account in our community. It's easy!

Register a new account

Sign in

Already have an account? Sign in here.

Sign In Now
Sign in to follow this