Sign in to follow this  
Blesbuck

Die dag as die broodmandjie se bodem uitval

Recommended Posts

Blesbuck

Annelie Botes: Die dag as die broodmandjie se bodem uitval

In die vroeë 1990’s, toe ons land ’n politieke kookpot was, kuier ek eendag by ’n vriendin wat heelwat ouer as ek is. Sy en haar man het uit die ou Rhodesië padgegee met die druppeltjie geld wat hulle destyds toegelaat is. Met dié geldjies het hulle ’n lewe kom uitkap in Bedford. Onder meer ’n boord neutbome geplant en neute uit die hand verkoop.

In Bedford word oud-Rhodesiërs “when-we’s” genoem. Want hulle mymer graag oor: “When we were still up in Rhodesia . . . ” Terwyl ons neute pluk, vra ek uit oor die lewe soos in Rhodesië voor onafhanklikwording in 1980. Ondanks ’n guerrillaoorlog, skets sy ’n scenario van vrede, orde en voorspoed. Hulle was gegoede mense sonder ’n naelbreedte se kommer oor hul oudag. Maar ná 1980 het dié land, wat op sy dag die broodmandjie van Afrika genoem is, met rasse skrede agteruitgegaan.

Rhodesië het ’n verwikkelde geskiedenis van kolonialisme en politieke konflik. Te vervleg om hier uit te lê. Maar die vraag waarop ek van haar ’n antwoord wou hê, was: Hoe het julle geweet die tyd het uiteindelik aangebreek om pad te gee?

Hul hele lewe, sekerheid, kerkbande en vriende was in Rhodesië. Om te verskuif met ’n paar besittings en ’n fraksie van die geld waarvoor jy jare gewerk het, is nie ’n ligtelike besluit nie. Veral as jy weet jy gaan verarmd anderkant aankom, en van voor af ’n bestaan moet uitbeitel. Dit vra leeuemoed, gebore uit wanhoop én oortuiging.

Haar antwoord was gestroop van sentimente. Sy en haar man het ’n fynberekende opsomming gemaak van die situasie in die verkrummelende Zimbabwe. Vooruitgeskat waar hulle oor 10 of 20 jaar sou staan indien hulle aanbly en as die verval in Zimbabwe voortstu. Hulle het nie die koorspen in eie mond gesteek nie, maar in dié van die land wat hulle lief het. Volgens haar is daar spesifieke struktuurverval wat moet inskop. Die graad van verval dien as ’n koorspen om te meet of ’n land op stuipe afstuur. As die pilare van polisiëring, onderwys, wetsrespek, maatskaplike stelsels en gesondheidsdienste knak, sal werkloosheid en misdaad oorneem en ’n land sal in sak en as versink.

Toe hulle dít onstuitbaar sien kom, het hulle gegroet en gegaan.

Wat sê SA se koorspen? Kom ons skuif sentiment eenkant en lees nét die koorspen. Ál die stelsels hierbo is aan flarde. Ek wil nie aan die dag dink waarop daar geen geld is om maatskaplike pensioene te betaal nie. My kop sê dís die dag waarop die laaste ghong sal slaan. Want dán begin letterlike hongersnood.

Volgens die koorspen is ons op pad soontoe. Waar sal ons dán ’n neutboord plant? Is dit nie dalk wys om betyds te groet nie? Of is dit ons plig om oopbors voor die storm te staan en te sê: Ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika?

http://www.netwerk24.com/stemme/menings/2015-07-27-annelie-botes-die-dag-as-die-broodmandjie-se-bodem-uitval

  • Like 5

Share this post


Link to post
Share on other sites

Join the conversation

You can post now and register later. If you have an account, sign in now to post with your account.

Guest
Reply to this topic...

×   Pasted as rich text.   Paste as plain text instead

  Only 75 emoji are allowed.

×   Your link has been automatically embedded.   Display as a link instead

×   Your previous content has been restored.   Clear editor

×   You cannot paste images directly. Upload or insert images from URL.

Sign in to follow this